Frederick onthou die eerste pelgrimstog

Frederick onthou die eerste pelgrimstog

 

In dieselfde maand van die Pelgrimstog van Hoop se sesde verjaarsdag gesels Erns Grundling met Frederick Marais van Communitas oor die eerste “recce” van Robertson tot by Kaap Agulhas in Oktober 2014.

Erns: Waarom het jy destyds spesifiek op Robertson besluit as beginpunt vir die Pelgrimstog van Hoop?

Frederick: Ek wou soos in die geval van die Camino stap na ’n betekenisvolle landmerk en het besluit om na die mees suidelike punt van Afrika te stap by Kaap Agulhas. Volgende op my lys was die oudste kerke en sendingstasies en toe kom Genadendal en Elim op die radars. Verder het ek gehou van die idee dat jy van een landstreek stap na ’n volgende en het ons besluit dat Robertson in die Breederiviervallei die “poort” kan wees na die Overberg. Dit is ook ’n dorp wat jy maklik per bus kan bereik.

Erns: Vertel meer oor daardie eerste staptog en wie saam met jou gestap het.

Frederick: Ek het tien dae verlof gehad om die eerste stap te doen en kollegas en vriende het my so stuk-stuk gejoin. Adrienne Bester wat saam met my werk en ook ’n pelgrim is het met die admin gehelp om waar ons kon slaapplekke te reël. Jannie Hougaard, wat toe predikant in Caledon was, het baie moeite gedoen om ons te help om van Genadendal tot in Hermanus ’n roete te ontwikkel. Ons moes mooi planne beraam en het uiteindelik besluit om in die Overberg by die plase Wolfkraal en Tussenbeide te oornag wat sedertdien instellings op die roete geword het.

Pierre Goosen, ook ’n kollega, het die eerste twee dae saamgestap. Sy vrou, Carol, het ons aangery tot op Robertson. Vandaar het ons gery tot by McGregor, want ons eerste slaapplek was in Greyton. Ons het weggetrek by McGregor se kerk ná ontbyt. Die oggendgebed was uit die Keltiese gebedeboek wat David Botha so mooi vertaal het. Ons het heerlik gestap van McGregor tot by Lord’s – ’n wynlandgoed met ’n krieketveld tussen niks en nêrens. Hier het Jacques Oosthuizen ons ontvang met ’n glas witwyn.

Toe klim ons die berg uit tot by Die Galg en sak toe in Boesmanskloof af. Uiteindelik het ons die aand 20:00 by die EcoLodge backpackers in Greyton aangekom. Ons tone was blou gestap en ná ’n bord kos het ons aan die slaap geval. Die eerste dag was 37 km se stap! Ons het dadelik besef dat hierdie in die toekoms eerder twee stapdae moet wees.

Op Dag 2 moes ons maar so vra-vra ons pad kry tot by Wolfkraal. By Genadendal het die mense reggemaak vir kerk. Orals was daar vriendelike mense wat ons gehelp het met aanwysings. Een van die konstabels aan diens by Genadendal se polisiestasie het vir ons die presiese pad verduidelik, want sy woon op Wolfkraal. Daarna het ons deur die mooiste vrugtebome al langs die rivier gestap. Uiteindelik het die pad suid geswaai in die koringlande wat goudgeel en gereed was vir die stropers. Dit was lekker warm gewees. Daar is mos nie bome vir skaduwee in die Overberg nie, net graanlande. Ons het afgekoel in die Sonderendrivier. Ons het die res van die dag deur die graanlande gestap wat soos natuurkunswerke voor ons oopgemaak het. Hierdie was weer ’n lang dag van 37 km en ons het besluit dit sal ook vorentoe twee stapdae moet wees. Op Wolfkraal het Pierre die aflosstokkie oorgegee aan Pierre en Mona Marais en nog vriende van Ceres, Nollie en Mariet Lamprechts. Hulle het heerlike braaivleis en koue bier gereed gehad, maar toe ek ná ’n warm stort aan tafel gaan sit en uiteindelik tot rus kom na byna 75 km in twee dae het die aarde onder my padgegee. Maar dit was niks wat ’n stewige dop Coke nie kon regmaak nie en toe het ons heerlik gekuier.

Dié groep het verder saam met my gestap na Tussenbeide (20 km), waar ons tuisgegaan het by Francois en Elizé Wiehann in ’n ou plaasskool se klaskamer. Die volgende dag het ons oor die Babilonstoringberge en langs die Karwyderskraalpad gestap tot by Volmoed (25 km), die retreat plaas wat ’n groot versoeningsrol in die apartheidsjare gespeel het en waar die bekende teoloog John de Gruchy tuisgaan.

By Volmoed het Peet en Adrienne Bester by ons aangesluit en het na Hermanus gestap en toe kuslangs gemik na De Kelders (30 km). By die Kleinrivier se monding moes ons ons skoene uittrek en kaalvoet stap, maar ons kon darem die rivier oorsteek. Ons het toe strandlangs gehou, verby die bekende Sopiesklip, tot by De Kelders. Daar het ons oorgeslaap by ou vriende uit Somerset-Oos se dae. Hulle het ons onthaal met heerlike vars vis en stories van die Overstrand.

Hier het Pierre, Mona, Nonnie en Mariet ons gegroet en het ek, Adrienne en Peet verder gestap van De Kelders af. Ons was nie lekker seker hoe ons van hier tot by Agulhas sou uitkom nie. By Gansbaai se Toerismeburo het ons besluit om nie seelangs te stap nie maar in te swaai na Baardskeerdersbos (28 km), waar Adrienne vir ons toe verblyf kon reël. Iewers tussen Gansbaai en Baardskeerdersbos het Peet opgemerk dat ons nie die oudste kerke in die Wes-Kaap raakstap nie, want wat van Franschhoek, Stellenbosch en natuurlik Kaapstad? Só word die idee gebore dat die roete eendag vanaf Kaappunt na Kaap Agulhas gaan loop. Baardskeerdersbos het ons gul ontvang met ’n lekker ete by Marietjie’s Pub en baie stories uit die kontrei. Elkeen het ’n weergawe van waar die plek sy naam vandaan kry. ’n Gunstelingstorie is ook van die jaarlikse kerkbasaar wat met ’n sopie “onwettige” witblits afskop!

Die volgende dag het ons Elim (22 km) toe gestap, waar Adrienne se pa, Christo, ons ingewag het met heerlike braaivleis en koue bier. Ons was egter steeds nie seker hoe om in Agulhas uit te kom nie. Van Elim het ons gestap tot by die plaas Springfield (27 km), waar Peet en Adrienne my gegroet het, want hy moes die volgende dag weer gaan preek op Franschhoek. Ek stap toe deur tot in Brandfontein (8 km) waar ek ’n saamrygeleentheid na Agulhas gekry het, want ek kon nie verblyf in die reservaat kry nie. Ek het toe maar in Agulhas in Pierre en Mona se strandhuis oornag.

Ek het die laaste dag weer by Brandfontein begin die hele dag se sowat 20 km alleen gestap, aangesien al die ander pelgrims elders op diens moes wees. Ek het al langs die kus gestap, verby Lord de Saumarez se destydse strandhuis, Suiderstrand en Rasperpunt tot by die mees suidelike punt van Afrika. Daar het my vrou Anita en dogter Anika my ingewag. Só is die pelgrimstog gebore.

Erns: Wat staan vir jou uit van daardie eerste pelgrimstog?

Frederick: Die eerste ding wat my opgeval het met die pelgrimsstap in Suid-Afrika was die vriendelikheid van die mense. Dit was opvallend dat die plaaslike mense graag kontak maak, uitvra en aanbied om te help. Ek onthou hoe mooi die natuurskoon vir my was en die onverwagse emosie wat oor my gekom het toe ek met die paadjie langs die see gestap het en die vuurtoring by Agulhas die eerste keer in sig gekry het. Ek was net baie diep geraak oor my verbintenis aan ons kontinent. Ek dink ek het toe vir die eerste keer in my bene gevoel: “I am an African.”

Erns: Ek sien op foto’s jy het reeds tydens daardie eerste pelgrimstog ’n rooi hoed gedra?

Frederick: Dit was my dogter se rooi lewensredderhoed wat later die simbool van die stappers sou word.

Erns: Die Pelgrimstog van Hoop is nou ses jaar oud. Wat is jou verjaarsdagwens vir die pelgrimsroete?

Frederick: Ek wens dat daar nog duisende mense die roete sal stap, dat daar langs die roete ’n ekonomie sal ontwikkel wat vir mense werk gee en dat die mense wat stap hoop sal kry vir hulleself en vir ons land. En natuurlik dat ek nog eendag die roete met my kleinkinders kan gaan stap.

1 thought on “Frederick onthou die eerste pelgrimstog

Leave a Reply

Your email address will not be published.