Quintus deel sy indrukke op die Pelgrimstog van Hoop

Quintus deel sy indrukke op die Pegrimstog van Hoop

Quintus Heine en sy vrou Riélle op die Pelgrimstog van Hoop

In Oktober vanjaar het Quintus Heine, streekhoof van Bybelgenootskap van Suid-Afrika se Westelike Streek, die Pelgrimstog van Hoop saam met sewe ander pelgrims (en ’n bystandvoertuig) gestap. Hy deel ’n paar gedagtes oor die ervaring met Erns Grundling.

Erns: Hoe het jy en jou groep die Pelgrimstog van Hoop ervaar?

Quintus: Die Pelgrimstog van Hoop het werklik vir ons ’n ervaring gebied wat ons altyd sal koester. Jy stap deur die Kaap se mooiste plekke en kyk anders daarna as wanneer jy sou ry met jou voertuig. Ek het nooit verwag dat die staptog vir my so ’n duidelike ervaring van hoop sou gee nie. En dit was lekker op ’n tipies Suid-Afrikaanse manier. Die plaaslike gemeenskap het al bekend geraak met die stappers met die rooi hoede en waai vriendelik in die verbygaan. Hulle staan ook altyd gereed met ’n stukkie raad om uit te deel.

Erns: Baie mense wonder oor veiligheid. Hoe het jy en jou groep dit ervaar?

Quintus: Dit was ’n baie veilige roete. Ons het nooit gevoel dat ons in ’n onveilige situasie of omgewing is wat onveilig is nie. Ek dink steeds dit is goed om die Pelgrimstog van Hoop as deel van ’n groep te stap en nie alleen aan te pak nie.

Erns: Behalwe vir veiligheid wonder mense dikwels oor die weer. Hoe was dit tydens julle pelgrimstog?

Quintus: Die Kaap se natuur het uitdagings wat hierdie beslis nie ’n “walk in the park” maak nie. Jy stap in verskillende seisoene in een week. Soms is die riviere vol van al die reën en ander kere is die grondpad hard en warm! Wees maar redelik stapfiks, want  jy moet in staat wees om op een dag 28 km te kan stap, indien jy nie ander verblyfplanne maak nie. Maar dit is nie so moeilik as jy die stap in kleiner gedeeltes van 5 km elk opbreek en gereeld rus nie. Sorg dat jou voete in ’n goeie kondisie is en moenie met kaal arms stap nie – Suid-Afrika se son kan jou lelik slae gee. Jy moet die tyd van die jaar slim kies. Ons het in blommetyd in Oktober gestap en dit was asemrowend om sewejaartjies in die berg raak te loop wat net so lank soos jy groei. Die risiko van reën is ongelukkig ook daar.

Erns: Jy het self alles beplan en bespreek. Watter advies het jy vir mense wat dieselfde wil doen?

Quintus: Bestel die handleiding en bestudeer dit goed. Besluit dan vir hoe lank jy wil gaan stap en waar jy wil begin: Robertson, Stellenbosch, Genadendal, Volmoed ens. Hoe langer jy stap hoe groter gaan jou afskakel van ’n besige lewe wees. Besluit wie gaan saam: ’n groep van vier is ideaal, dan kry jy makliker verblyf bymekaar in byvoorbeeld twee kamers. Ons was ’n groep van agt en dit was heerlik, maar die logistiek het meer uitdagings gehad. Besluit ook vooraf hoeveel kilometer jy per dag wil stap en beplan daarvolgens. Bespreek jou verblyf verkieslik ’n paar maande voor die tyd. Ek het eers ’n e-pos aan almal gestuur en toe met ’n oproep opgevolg. Ons begroting per persoon was sowat R600 per dag. Jy moet die Communitas-kantoor laat weet wanneer jy vertrek want dit is goed dat daar nie meer as een groep op dieselfde dag vertrek nie – verblyf is soms beperk. Ek is bly daar is ’n diens soos Pilgrim Assist, wat dit moontlik maak vir mense wat nie self kan of wil organiseer nie om ook die pelgrimsroete te kan stap. Die ander positiewe is dat dit die standaard van die blyplekke en die ontwikkeling van die roete en oprigting van roetemerkers sal bly verseker.

Erns: Hoe het julle die verblyf ervaar?

Quintus: Die verblyf was wonderlik. Sonder dat ek dit besef het, het ek goeie keuses gemaak. Op die meeste plekke langs die pad – behalwe Wolfkraal, Tussenbeide, Rusty Gate en Springfield – is daar deesdae meer as een opsie vir verblyf beskikbaar. Dit maak die toekoms van die pelgrimsroete vanuit ’n toerisme-oogpunt positief. Dit sal ideaal wees as meer as een groep vorentoe op dieselfde tyd kan stap.

Erns: Hoe noodsaaklik was ’n bystandvoertuig?

Quintus: Omdat mense in ons groep weens gesondheidsredes nie meer self ’n volgepakte rugsak kon dra nie het ons van ’n bystandvoertuig gebruik gemaak. As ek nou terugdink is ’n bystandvoertuig in elk geval ’n goeie opsie indien jy self jou pelgrimstog reël. Die Kaapse weer is onvoorspelbaar en as jy ’n vol rivier, skielike reën of ’n besering kry help so ’n voertuig baie. Dit maak ’n mens rustig as jy in jou agterkop weet: Daar is iemand op bystand!

Erns: Enige advies oor wat om in te pak?

Quintus: Selfs al het jy ’n bystandvoertuig dink ek jy moet maar dieselfde pak as vir ander staptogte, soos die Camino in Spanje. Probeer maar om so lig as moontlik te stap, met min besittings. Jy gaan verbaas wees met hoe min jy kan regkom. Dit is nodig om weg te kom van besittings en dinge wat jou lewe swaar maak. ’n Staptog leer jou om ligter te lewe!

Erns: Wat is jou blywende indrukke van die Pelgrimstog van Hoop?

Quintus: Die pelgrimstog het ons almal baie hoop gegee. Nie net met ervarings wat jy beleef op jou roete nie, maar ook om Suid-Afrika se mense te beleef – weg van politiek en ander dinge. Na ons staptog het ons almal op verskillende vlakke hoop gehad. Ons sal dit weer doen! Suid-Afrika is ’n unieke land met die wonderlikste natuurskoon en mense. Wat my ook nog hoop is dat so baie mense wil betrokke raak om die pelgrimstog te verbeter. Dit wys dat diegene wat die Pelgrimstog van Hoop gestap het daarin glo!

Leave a Reply

Your email address will not be published.