Dewald deel sy passie vir die Pelgrimstog van Hoop

Dewald deel sy passie vir die Pelgrimstog van Hoop

Dewald Hoffmann

Die predikant en binnekort ook doktorale student Dewald Hoffmann het ’n jaar gelede die Pelgrimstog van Hoop gestap en is deesdae al hoe meer betrokke by die projek, onder meer die kartering van die roete en die nuwe weergawe van Communitas se handleiding. Hy vertel vir ons meer.

Erns: Waar het jy die eerste keer van die Pelgrimstog van Hoop gehoor en wat het jou laat besluit om te gaan stap?

Dewald: My eerste blootstelling aan die idee van ’n pelgrimstog was toe ek die fliek The Way gekyk het in 2012. Dit het iets in my wakker gemaak en ek het al hoe meer begin lees oor pelgrimstogte, veral die Camino in Spanje. Dit is vir my ’n droom om dit eendag te gaan stap. Ek het in 2016 bewus geraak van die Pelgrimstog van Hoop – een van my vriende het dit gaan stap en roetebordjies langs die pad geplant. Ek het begin besef dat om Spanje toe te gaan baie geld kos en dat ek eerste hier sal wil stap om die ervaring in ons eie land te hê en hopelik meer gerat te wees vir die Camino in die toekoms. Stap is nog altyd vir my belangrike terapie en ’n manier om my kop skoon te kry. Ek stap daagliks. Ek was ook toe ek die Pelgrimstog van Hoop gaan stap het ’n jaar gelede by ’n plek in my lewe waar een hoofstuk geëindig en ’n nuwe een begin het.

Erns: Jy het ongeveer ’n jaar gelede gestap. Hoe was die ervaring en wie was jou stapmaats?

Dewald: Eerstens was die weer baie goed gewees. Dit was wel baie warm, so ons moes vroeg in die oggend begin het om die ergste hitte van die dag te probeer vermy. Ons was egter nie altyd so suksesvol daarmee nie. Maar ons het wel steeds ’n paar dae se reën gehad en een interessante dag wat heeltemal mistig was, maar oor die algemeen was dit baie goeie stapweer gewees.

Dewald se twee stapmaats John en Sam

My stapmaats was twee Amerikaners van Nashville, ’n Presbiteriaanse predikant, John, en sy seun, Sam. Dit is ’n baie interessante storie oor hoe ons paaie gekruis het. John was jare terug hier gewees in die tagtigs toe hy basies so jonk was soos wat ek nou is. Hy het studeer onder die bekende teoloog professor John de Gruchy. Verlede jaar het hy die geleentheid gekry om met sabbatsverlof te gaan. Hy het toe oorweeg om die Camino te gaan stap, maar behalwe dat dit baie geld sou kos het sy hart ook gehunker terug na Suid-Afrika toe. So kom daar toe ’n geleentheid dat hy befondsing ontvang het vir sy sabbatsverlof en besluit om Suid-Afrika toe te kom. Hy het gehoor van die Pelgrimstog van Hoop deur ’n vriend van Frederick Marais wat ’n professor is by ’n universiteit in Nashville. So het Frederick my in verbinding gestel met John, want hulle soek toe iemand om hulle te help met van die reëlings en hulle uiteindelik te begelei op die pelgrimsroete. ’n Mens hoor maar baie Afrikaans langs die Pelgrimstog van Hoop en John-hulle kan natuurlik nie ’n woord daarvan praat nie. So ek dink dit het toe vir hulle gemoedsrus gegee om saam met my te stap.

Erns: Noem ’n paar hoogtepunte of interessante oomblikke tydens jou eerste Pelgrimstog van Hoop. 

Dewald by Rusty Gate

Dewald: Op so ’n pelgrimstog is daar maar altyd staaltjies, ongelooflike oomblikke en hoogtepunte wat ’n mens kan deel. ’n Baie betekenisvolle oomblik vir my was toe ek binne ’n kano gesit het in Rusty Gate se dam. Dis baie mooi daar by Rusty Gate, jy’s tussen die berge en jy het hierdie pragtige uitsig in die vallei af. Ek onthou net ek het ophou roei en ek het net gesit, so half gelê in die kano, en na my voete gekyk. Dit was die eerste oomblik wat ek rêrig by myself gedink het: My voete het my hiernatoe gebring. Dit was vir my ’n baie belangrike en spesiale oomblik om te dink my voete het my letterlik toe al oor twee of drie berge gedra. Daardie aand het ons die mees asemrowende sonsondergang beleef toe ons gestaan en wyn drink het op die grasperk.

Ons het een aand buite Genadendal reg langs die rivier geslaap, daar naby die Kruising. Elkeen het so half sy eie ding gedoen en toe ons die radio aanskakel toe speel Miriam Makeba se “Malaika”. Ek onthou net ons almal het stil geword en net geluister. Dit was regtig ’n mooi oomblik.

In Baardskeerdersbos het ons die aand iets gaan soek om te eet en drink en bevind onsself toe by die landbousaal se kroeg en restaurant. Toe ons daar ingestap het was almal so bietjie styf gewees. Ons was self nie seker hoe om die atmosfeer te lees nie, dit was asof die hele kroeg tot stillstand gekom met ons aankoms. Toe gebeur daar iets wonderlik. Die kroegman vra of dit ons eerste keer daar is en ons antwoord ja. Hy gee toe vir ons elkeen Springbokhorinkies met witblits in om ons welkom te heet. Soos ’n mens van Baardskeerdersbos sou verwag was dit ordentlike, sterk witblits. Die oomblik toe ons dit gedrink het was dit asof die hele vertrek lewendig geword het. Dit was toe een van die lekkerste kuieraande met die plaaslike gemeenskap. Die orkes het ook gespeel. John kan lepel speel so hy het toe ook by die orkes ingeval. Dit was so ’n spesiale voorbeeld van Suid-Afrikaanse gasvryheid. Ons het toe baie jolig terug gestap na ons verblyf en moontlik die helfte van die dorpie wakker gemaak.

Dewald en stapmaats by Agulhas

Teen die tyd toe ons by Agulhas uitgekom het, het ons mekaar al baie beter leer ken. Die laaste dag se stap was so spesiaal gewees. Toe ons klaar by die mees suidelike punt was het ons elkeen op ons eie na die vuurtoring gestap. Dit was ongelooflik om net met daardie houtpaadjie te stap na die vuurtoring wat die simbool is van die pelgrimstog. Ons het ’n paar ekstra dae by Agulhas oorgebly en die lewe en die pelgrimstog gevier.

Erns: Waar het jou belangstelling in kartering begin? Hoe het dit gegaan met die kartering van die roete?

Dewald: Ek het nog altyd in kaarte belang gestel. Op skool was ek mal oor geografie. Voor ek besluit het om ’n predikant te word wou ek ’n vlieënier ook geword het, so ek het al begin met ’n bietjie van die opleiding rondom dit. Ek het ’n redelike gevoel vir ’n kaart maar gebruik dit nie so baie as wat ek sou wou nie. Die digitale kaarte neem deesdae oor, ek wens soms ons het nog rondgeloop met behoorlike tipografiese kaarte. Ek is ’n baie georganiseerde persoon so ek wil altyd weet hoe om by ’n plek uit te kom en waarheen ek op pad is. Ek is een van daardie mense wat ure agter ’n kaart kan sit en aanwysings maak, want ek hou van data en analise.

Toe Frederick my nader om te kyk of ek van die roetemerkers dalk digitaal wil vaspen, het ek die geleentheid aangegryp. Ek het ook hier en daar gevoel die handleiding het plek-plek so ’n bietjie verouderd geraak. Dit het goed gegaan met die kartering, hoewel ek graag die koördinate wil integreer met ’n ander tipe sagteware wat ’n bietjie meer verbruikersvriendelik is. Ek sal graag daaraan wil aandag gee. Hier en daar was die selfoonsein ’n bietjie swak, veral op plekke waar sein die meeste nodig is! Gelukkig kan ’n mens deesdae voor die tyd na die roete kyk en dit aflaai op jou selfoon as ’n offline kaart. Dis nou nie altyd lekker om met ’n selfoon te stap nie, maar ek sal eerder hier en daar met ’n selfoon stap as wat ek verdwaal. Ek dink die elektroniese roetemerkers het ons gehelp om te besef dit is nie altyd moontlik om orals fisiese roetemerkers te hê soos op die Camino waar jy net die skulpe kan volg nie. Maar dit is tog belangrik om op sekere kritieke plekke roetemerkers te hê en dit te probeer onderhou. Ek sien uit daarna dat meer mense die elektroniese roetemerkers sal gebruik en dat ons dit meer verbruikersvriendelik maak vir mense wat dalk nie tegnologies so goed is nie.

Erns: Jy was ook vanjaar ’n gas op die TV-reeks Elders. Hoe was die ervaring en wat was die terugvoer van familie en vriende?

Dewald en Erns saam op Elders

Dewald: Ek het dit baie geniet om agter die skerms te kon sien hoe so ’n produksie werk. Almal betrokke was sulke lekker mense en goeie geselskap. Dit was kort ná die einde van die harde inperking, so dit was vir my so lekker om uit te kom. Daar was ’n poëtiese simmetrie aan die besigheid want die laaste ding wat ek gedoen het voor die eerste inperking was om te stap, so dit was omtrent die eerste ding wat ek weer in Junie verlede jaar kon gedoen het tydens die Vlak 3-inperking. Ek was dankbaar vir die geleentheid om iets van myself en my navorsing te kon deel met mense. Ek was al voorheen op televisie maar hierdie was die eerste keer dat my iemand gevra het oor die goed waarmee ek besig is. Dit was vir my familie en vriende ook lekker gewees om my te sien. En ek voel dit was ’n eerlike weerspieëling van wie ek is.

Erns: Jy is ’n predikant en het ook onlangs ’n meestersgraad suksesvol voltooi. Wat behels jou navorsing en waaraan werk jy volgende?

Dewald: Ek het my meestersgraad verlede jaar voltooi. Dit is my tweede meestersgraad so jy sou dink ek het nou al genoeg gehad. Maar lyk my ek is maar ’n bietjie van ’n “sucker for punishment”, want ek pak binnekort ’n doktorsgraad aan. Dit was nogal ’n ervaring om hierdie onlangse meestersgraad tydens die pandemie te voltooi. Ek verlede jaar die Pelgrimstog van Hoop gestap, teruggekom, op my bas gesit voor my rekenaar en my finale voorlegging klaar gemaak en letterlik op die dag voor die harde inperking begin het ingedien. So toe ek dit ingee kon ek nêrens heen gaan nie. Dit was ’n vreemde ervaring om toe verder te werk aan temas soos die omgewing en die ekologiese krisis as jy nie buite kan wees in die natuur nie. My navorsing het meestal te doen met ekologiese etiek. Ek het probeer kyk na wat die NG Kerk reeds gesê en gedoen het oor die omgewingskrisis. Die doel is om gemeentes te kan help om meer prakties om te gaan met die omgewingskrisis. Ons moenie net praat oor die uitdagings wat ons in die gesig staar nie, maar eerlik wees daaroor, verantwoordelikheid aanvaar en besef dat die Here ons almal roep om meer volhoubaar te lewe en dat die hele Aarde deel is van God se skepping. Ons is nie op een of ander manier verhewe nie.

Ek is tans besig om te werk aan die voorlegging vir ’n PhD-studie. Dit gaan redelik bou op die temas van die eerste stuk navorsing. Ek wil wel ’n groter fokus plaas op die interaksie tussen die geregtigheid en omgewingsake en ook hoe die ekonomie en politiek inspeel op dit. En dan nou wat die kerk te sê het rondom dit, en wat dit moontlik kan beteken vir ons as gelowiges en wat ons anders kan doen om die wêreld te lei in ’n nuwe geloof en leefstyl wat iets weerspieël van die Koninkryk van God en nie net afbreek en misbruik nie.

Erns: Verlede jaar was jy ten nouste betrokke by Communitas se nuwe handleiding vir die Pelgrimstog van Hoop. Waarna kan voornemende stappers uitsien in die nuwe gidsboek? 

Dewald: Ek is verskriklik opgewonde! As iemand wat verlede jaar die vorige weergawe van die handleiding gebruik het, weet ek daar is ’n hele paar positiewe veranderinge. Een ding wat nog altyd ’n uitdaging is, is inligting van verblyfplekke en kontaknommers. Toe ek verlede jaar die pelgrimsroete gestap het, was dit vir my duidelik dat baie van daardie inligting verouderd geraak het. Ons het groot moeite gedoen om al die verblyf, museums en aktiwiteite se nuutste inligting op te dateer. Ons het ook probeer om die gevoel en uiteensetting van die boeke te verbeter. Dit is nou baie makliker om te navigeer – kontakbesonderhede en inligting oor plekke is langs simbole aangedui, wat dit makliker vir jou maak om te vind. Die kaarte was ook ’n bietjie verouderd, so ons het dit alles oorgedoen. Daar was ’n paar foute met afstande in die vorige weergawe gewees, so ons het dit reggestel. Ons het in die algemeen probeer om orals beter aanwysings te gee en ons hoop dit is nou makliker as ooit om jou weg te vind langs die pelgrimstog. Hopelik gee dit vir pelgrims ’n baie beter idee van wat om te verwag. Oor die algemeen dink ek dit is ’n beter produk en ’n goeie fondasie om op voort te bou wanneer nuwe uitgawes verskyn.

Erns: Wat is jou hoop vir die Pelgrimstog van Hoop? 

Dewald op laaste stapdag

Dewald: Ek sou hoop dat dit toenemend meer toeganklik word vir mense om te stap, al is dit net ’n gedeelte op ’n slag. Ek dink die roete bied so ’n asemrowende diversiteit van landskappe, mense en kulture. Om te stap doen iets aan nou diepste binneste, dit help jou dinge verwerk al besef jy dit nie eers nie. Die Elders-reeks op kykNET was ’n goeie fondasie vir die bekendstelling van die roete aan ’n groter gehoor, waarvan ’n mens verder kan werk. Ek hoop dit is eendag só ’n bekende roete dat mense dadelik die pelgrims met hulle rooi hoede sal herken en weet dat hulle hierlangs stap. En ek sal wil hoop dat daar ’n groter kultuur of ekosisteem ontwikkel rondom die pelgrimstog – verhoudings tussen mense wat akkommodasie bied, dienste bied, pelgrims ontvang of net vir hulle bid. Ek dink dit is reeds besig om te gebeur. My hoop is dat die Pelgrimstog van Hoop oor twintig jaar ’n gevestigde roete sal wees wat mense die geleentheid sal gee om hulself en die aarde beter te leer ken en dit op ’n diep manier te beleef.

2 thoughts on “Dewald deel sy passie vir die Pelgrimstog van Hoop

  1. DANKIE dit was lekker om van jou passie te hoor! Ek wil graag vir my 60ste verjaardag hierdie tog doen! Is nou vanvooraf geinspireer en al is ek tegnologies- en rigting-bedinges is ek seker met al jul moeite sal ek nie verdwaal nie!
    Groete
    Mari

  2. Dewald, ek het nogals jou kartering op Google maps waardeer en baie gebruik. Dankie, dit het gemaak dat ons nooit verdwaal het nie.

    Hierdie staptog is ‘n wonderlike avontuur en ek beveel dit hoog aan vir almal.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *